Sedert die GasKrokodil
my vriendin Daisy vermoor het, kon ek hoegenaamd geen stoom afblaas oor die Flintstones nie. Ek het derhalwe besluit
om hulle hier sommer hul eie blad te gee. Dankie aan almal wat die moeite gedoen het om navraag te doen oor my oorlede
vriendin. Dis 'n riem onder die hart.
Hier sit ek nou al bykans 2 ure en sukkel om my "diensverskaffer"
te kry om my toe te laat om te werk. Niks wil oplaai nie en ek vra geduld.
Weet net die Flintstones is nêrens
heen nie. Business as usual. En ek word by die dag gryser...
Wanneer tyd toelaat bring ek almal op
hoogte. Shalom!
Liewe
Alida:
Baie dankie vir jou geduld, en dat jy my goed lees. Dis vir my 'n voorreg!
|
|
BigDaisy 13 September 2007 - 3 oktober 2008 Rus in Vrede
|
Een jaar, 5 maande en 17 dae. Dis hoe lank die Flintstones in hul grot hier langs ons woon. Ek kan nie
sê hoe ons dit reggekry het om so lank uit te hou nie, want die Jimmel alleen weet hoeveel 'n mens kan vat.
En so kom alles toe vanoggend tot 'n punt. Sommer twee bakkies trek stêre eerste by die hek in. Ek
loer by die venster en kyk hoe die werkers wasmasjien, vrieskas, eetkamerstel en wie weet wat nog laai. Drie keer.
Ses bakkievragte dus.
Met die laaste lot hoor Seun van my hoe Fred vir iemand oor die foon beduie dat hy vandag
die pad vat. Vandag is die dag, sê hy. Hy gaan boer. Met hoenders en beeste. En my hart sing.
Jippie, dag ek. Uiteindelik!
En Fred laai die blou plastiek hondehuis en roep die hond. Laasgenoemde
kan beswaarlik wag en daar gaat hulle. En ek sê vir myself: "Self, dis verby."
En met
'n lied in my hart was ek skottelgoed en kook aartappels vir saam met die braai. En so dring dit tot my deur dat
ons vanaand in stilte kan eet. Of liewer: Ons sal mekaar kan hoor wanneer ons aan tafel probeer gesels.
Geen Steve-namaaksels van Kris Kristofferson nie. Geen "You picked a fine time to leave me, Luciiiiiiiiile......."
nie. Net rustigheid.
Ek sms vir Man van my die goeie nuus en hy laat weet terug hy stop sommer op pad huistoe
vir 'n bottel iets want dit moet geVIER word.
En ek trippel deur die res van die dag. Seun steek die
vuur aan met 'n gesukkel want niemand het hom ooit geleer vuurmaak sonder daai wit blokkies nie en ons s'n is juis
op. Toe die Ford so net voor half sewe die draai by die ouetehuis vat, stuur ek vir Seun vir glase en ys. En ons
braai en ons vier dit behoorlik.
Toe die wors plekmaak vir die vleis op die rooster, bars alle hel los. Toeter
voor die hek van die grot, gille van binne en deure wat klap.
Ons hoor Wilma hektoe trippel en sy begroet vir Fred
of NIKS fout is nie. Dis net "ek het jou SO gemis", en "waar WAS jy my ENGEL?" Ons stuur die
kinders binnetoe want ons was bang die ding raak ouderdomsbeperk.
En toe trek Wilma los:
"My Pa
het gesê jy sal terug wees voor die son sak!" BIG mistake.
Fred gooi met 'n stormvloed van
beledigings rakende Wilma se familie en DWAH! klap hy haar.
Man van my gooi nog een want dit gaan 'n laaaaaaaaaang
nag wees. En dit tref my: Fred is nie terug nie. Hy was nooit weg nie.
24 November 2008
|